Argief:
Hierdie was die webwerf van Centurion Sakekamer vanaf die 1990s tot 5 Oktober 2005. Dit word nou slegs behou as argief en word nie meer bygehou nie.

Nuusvrystelling

 

Doelstellings
Lidmaatskap
Byeenkomste
Nuus
Bestuur
Kontak
Skakels
Terugvoer

 

Nuus-
vrystellings
Foto's van
Funksies

 

Geborg deur:
SuproNet

Centurion Sakekamer Wy Nuwe Kantore In
Februarie 2000

Centurion Sakekamer se nuwe kantore is amptelik geopen op 27 Januarie 2000. Tydens die geleentheid het die Uitvoerende Direkteur van die AHI, mnr Jacob de Villiers, ook 'n praatjie gelewer (sien hieronder). Gaste het daarna gesmul aan 'n heerlike ete voorsien deur JJ's Vleismark.

Mnr. Jacob de Villiers, Uitvoerende Direkteur van die AHI, Rdl. Christa Spoelstra, Burgemeester van Centurion, en Mnr. Michael van der Westhuizen, Voorsitter van Centurion Sakekamer, tydens die amptelike opening van die sakekamer se nuwe kantore.

Ons nuwe kantore is in die Cenbisgebou, Unielaan 134, Lyttelton. Die kantore word beman deur Nollie Coetzer en die administratiewe beampte, Heleen de Beer. Baie dankie aan die Stadsraad van Centurion wat hierdie pragtige kantore aan ons beskikbaar gestel het teen 'n minimale huur. Waar kry jy nog so 'n Stadsraad met soveel versiendheid?

U is welkom om ons te kom besoek, al is dit net om 'n koppie koffie saam te drink. Skakel net eers. Onthou dat die sakekamer oor baie kundiges beskik en daarom moet u nie huiwer om by ons te kom kers opsteek nie. As u enige raad wil hê oor u bestaande besigheid of dalk met 'n onderneming wil begin, kom gesels gerus met ons.

Geleentheidstoespraak by Centurion

gelewer deur
Mnr. Jacob de Villiers,
Uitvoerende Direkteur van die AHI
by geleentheid van die amptelike inwyding van Centurion Sakekamer se nuwe kantore op 27 Januarie 2000.

1. Centurion is 'n rolmodel Sakekamer

Baie geluk aan u Sakekamer wat vir die tweede agtereenvolgende jaar die AHI Vise-Presidentsbeker (vir Sakekamers met minder as 80 lede) in die landswye AHI kompetisie gewen het.

Kriteria wat in die kampetisie geld is, onder andere, sakekamerleierskap, dienslewering aan lede en sake- en gemeenskapsprojekte. U Sakekamer is gelukkig om toegewyde leiers - Anton Heydenrych, oorlede Dicky Mertsch en Michael Van der Westhuizen - met hulle besture kon gehad het wat dit wat lede van u Sakekamer verwag, kan aanbied.

Centurion Sakekamer het ook verlede jaar 'n derde plek verower in die AHI/Rentmeester toerismekompetisie - voorwaar 'n puik prestasie. Nog meer: Rita Aucamp, 'n staatmaker hier in Centurion, is ook by die laaste AHI Kongres verkies tot President van die SA Raad vir Sakevroue. Ons is trots op haar, nie net binne AHI strukture nie, maar ook vir haar rol in gemeenskapsprojekte hier in Centurion.

Daarom voel ek bevoorreg, om saam met u die opening van hierdie kantore te belewe.

Ek sluit graag aan by Michael se dank aan lede van die Stadsraad vir hulle ondersteuning van die Sakekamer. Ons by die AHI hou Centurion voor as 'n rolmodel vir die hele SuidAfrika. U bedryf inderdaad die vennootskap en samewerking tussen u plaaslike owerheid en u Sakekamer tot voordeel van die ganse gemeenskap. Dit dien ons as uitdaging om julle model by alle Sakekamers in die land te bevorder.

2. Die Sakekamerrol vir lede

Laat my toe om tog vanmiddag enkele van die vele voordele van lidmaatskap aan 'n Sakekamer uit te lig.

Die suksesvolle Sakekamer sien eerste om na die behoeftes van lede om te help verseker dat lede meer sakesukses behaal as nie-lede. In die Sakekamer help lede mekaar omdat hulle kan. Daaruit ontwikkel 'n netwerk van sake-kontakte, wat onmisbare "infrastruktuur" vir sakelui is.

Dit verg dat die gereelde kontakgeleenthede van die Sakekamer ruimte vir lede moet skep am inligting, advies en kundighede uit te ruil. Hierdie "markplek" moet lede opgewonde maak omdat hul weet dat hul soveel daaruit kan put as wat hulself insit. Dit leer lede om mekaar te ondersteun. Dit help om die regte persone byeen te kry. Betrokkenheid is die towerformule!

Die taak van ondememers is dikwels in 'n eensame wêreld. Hul skep hul eie projekte en neem verantwoordelikheid vir die totale bedryf daarvan. As die Sakekamer ruimte skep waar ondememers mekaar so goed leer ken dat hul toenemend geleenthede onder die aandag van spesifieke medelede bring, dan bring dit toegevoegde waarde aan lidmaatskap. Dit skep ook die behoefte om met mekaar oor hul besighede te praat en bymekaar kers op te steek.

In die aktiewe Sakekamer is die lede derhalwe toenemend aaneengeskakel en interafhankhik van mekaar sodat elk vir mekaar uitkyk. Sodoende aanvaar elkeen verantwoordelikheid om te skep en te groei ook in die gemeenskap.

'n Sakekamer word gedra deur die energie en entrepreneurskap, wat in die algemene belang saamgevoeg word. Entoesiasme van en deelname deur lede is belangrik afhanklik van die lid se persepsie van die nut van die Sakekamer in eie sukses en vordering. Hierdie tyd en energie van sakelui vir Sakekamerwerk word vereis van daardie mense wat ook alles moet uithaal om in die eie onderneming steeds aanpasbaar en winsgewend te wees. Juis daarom moet die Sakekamer help dat lede suksesvolle ondernemings bedryf.

    3. Ons is in die reënboog-era: Is ons aanpasbaar?

Ekonome is dit eens dat ons aan die begin van 'n sikliese opswaai is. Ons land is weer ten volle betrokke in die wêreldgemeenskap. As ons die geleenthede raaksien en wil benut is daar goeie moontlikheid vir die aanlok van binnelandse en buitelandse vennote.

U is as Sakegemeenskap instaat om die ekonomie te help groei en 'n hupstoot aan ontwikkeling te gee. Die totale gemeenskap smag na meer/beter werksgeleenthede en om aan armoede te ontsnap. U bied die hoop. U entrepreneurskap, insigte, vaardighede, sensitiwiteite, intuïsie en vermoëns stel u in staat om 'n betekenisvolle verskil te maak.

Saam skep ons welvaart.

J. DE VILLIERS 27/01/2000

Vorige berig

 Volgende berig   >

 

Centurion Sakekamer is trots om geassosieer te wees met die volgende twee Webwerwe:

CenturioNet       BesigheidCenturion

[Doelstellings] [Lidmaatskap] [Byeenkomste] [Nuus] [Bestuur] [Kontak] [Skakels] [Terugvoer]

[Nuus- vrystellings] [Foto's van Funksies]


Meld asseblief enige probleme met hierdie bladsye aan by die Webmeester.
© 2001, 2002, 2003, 2004, 2005
SuproNet, 'n afdeling van SUPROKON Bestuursdienste